Deur David Malherbe – Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 30 August 2013
Minister Rob Davies het onlangs genoem dat 7 uit 10 besighede wat in Suid-Afrika begin word, binne 12 maande weer hul deure sluit. So ‘n droom wat nie realiseer nie, veroorsaak baie pyn en mense verloor baie geld.
Ongelukkig het daardie 70% mense gewoonlik die geld om die besigheid te finansier by ‘n bank geleen. Dit maak dat die pyn nog lank uitgerek sal word omdat die bank gewoonlik sonder uitsondering van die eienaar vereis om in sy of haar persoonlike hoedanigheid borg te teken vir die skuld. Dit beteken dat as die besigheid weens onvoorsiene omstandighede nie die skuld aan die bank sal kan terugbetaal nie, jy persoonlik verantwoordelik sal wees om die bank terug te betaal. Dit klink vir jou heeltemal aanvaarbaar en jy teken.
Maar as die besigheid misluk en jy het nie die geld het om dit terug te betaal nie? Dan begin die bank ‘n regsproses teen jou om die geld te vorder en jy is verantwoordelik vir al die bank se regskoste plus rente.
Die gevolg van die regsproses is dat jy jou huis, meubels, motor of watter bates ook al kan verloor. Jou besittings kan in so ‘n geval op ‘n veiling verkoop word; meestal vir baie minder as wat jy daarvoor betaal het. As die veiling nie al die skuld dek nie, is jy nog steeds aanspreeklik vir die skuld aan die bank. Die bank verkry dan ‘n skuldbeslagorder (garnishee order) teen jou en jou werkgewer moet dan maandeliks ‘n bedrag geld van jou salaris aftrek om die skuld te betaal.
Die geheim is dus om baie versigtig te wees met die aangaan van skuld vir ‘n nuwe besigheid en soveel te meer om borg te teken. Die wyse Salomo se waarskuwing in Spreuke 11:15 is “Dit gaan sleg met hom wat … borg staan; die man wat weier om borg te staan, is veilig.”
‘n Mens hou nie daarvan om pessimisties te wees nie, maar nou dat jy weet daar is moontlik slegs ‘n 30% kans op sukses, sal dit wys wees om twee keer te dink voordat jy jou handtekening op papier sit en borg teken vir daardie “broodnodige” lening.
David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwerp op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.
(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)