Deur David Malherbe – Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 16 August 2013
“If you don’t build your own dream, someone will hire you to help build theirs.” Hierdie aanhaling is waarskynlik ‘n goeie rede hoekom iemand ‘n eie besigheid sou wou begin. Indien jy ook só voel en graag vir jouself wil werk, onthou om ‘n entrepreneur te word, is ‘n proses wat oor tyd ontwikkel.
Die eerste belangrike aspek is om ‘n sake-idee te hê wat kan werk en wat by jou geaardheid pas. Moenie dink dat as iemand anders geld maak met iets dat dit noodwendig vir jou ook sal werk nie.
Verder moet jy oor die nodige vermoëns en kundigheid vir die spesifieke tipe onderneming beskik. Vorige opleiding en ondervinding in die veld waarin jy jou wil begewe, is van onskatbare waarde. Daarsonder is dit heelwat moeiliker om ‘n nuwe besigheid van die grond af te kry.
Daarna is dit belangrik dat die nodige hulpbronne tot jou beskikking sal wees. Finansiële kapitaal en toerusting sal waarskynlik aanvanklik die vernaamste wees. Die Engelse uitdrukking “cash stricken” beskryf baie goed wat gebeur indien finansiële hulpbronne gebrekkig is.
Dit is ook belangrik om seker te maak dat die geleentheid vir ander mense van waarde sal wees en dat hulle bereid sal wees om daarvoor te betaal. Sonder ‘n groot genoeg mark vir jou produk of diens sal die besigheid nie groei nie.
Die feit dat daar ‘n mark vir jou produk of diens is, verseker nog nie dat jou sake-idee uitvoerbaar sal wees nie. Daar is ‘n groot gaping tussen ‘n goeie idee waarvoor daar ‘n mark is en om die produk klaar vervaardig en gereed vir verkoop te hê. Uitvoerbaarheid het te doen met die oorbrugging van hierdie gaping.
Nadat jy al bogenoemde in plek het, is dit nodig om ‘n sakeplan op te stel. So ‘n detail beplanning van hoe jy jou besigheid gaan begin en bedryf, met ‘n finansiële- en bemarkingsplan vir ten minste die eerste jaar, is uiters belangrik.
Nadat jy vasgestel het dat die onderneming uitvoerbaar is en jy die nodige hulpbronne bekom het, kan jy jou besigheid begin, bestuur en uitbou. Onthou egter ‘n besigheid is soos ‘n voertuig; dit moet verantwoordelik bestuur word om op koers te bly.
David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwep op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.
(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262)