Deur David Malherbe – Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 4 Oktober 2013
Enigiemand wat daaraan dink om ‘n besigheid te begin, se eerste vraag is gewoonlik “Waar gaan ek geld kan leen om die besigheid mee te begin?” En ongelukkig is dit so dat bitter min besighede van die grond af kan kom sonder dat die eienaar(s) iewers vandaan finansiële hulp kry.
Aan die ander kant is dit ongelukkig ook so dat ‘n mens baie maklik so gewoond raak aan baie skuld, dat ‘n mens later maar net meer en meer skuld maak. Daar is soveel advertensies wat die leen van geld so aanloklik laat lyk, dat ‘n mens baie maklik verstrik raak daarin. Koop nou en betaal later. Die terugbetaal is anderdag se probleme.
Die Bybel sê egter in Spr 22:7 “… die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.” Niemand van ons wil ‘n slaaf genoem word nie, maar ons dink nie twee keer voordat ons iets op skuld koop nie, of om ons skuld te vergroot om ‘n besigheid vinniger te probeer uitbrei nie.
Dit ís so dat skuld ‘n hefboom effek kan gee om jou besigheid vinniger te laat groei, maar dit kan net gebeur as jou planne reg uitwerk en die ekonomie nie met ‘n paar slegte verrassings vorendag kom nie.
Laat ons daarom versigtig te werk gaan wanneer dit kom by geld leen. Dieselfde instansie wat so vriendelik is wanneer hulle wil hê dat jy geld moet leen, is tien keer so onvriendelik as jy die dag agter raak met paaiemente.
As dit ‘n meubelstuk is wat jy vir jou huis gekoop het, is dit dalk al wat jy verloor, maar as dit geld is wat jy geleen het om jou besigheid mee aan die gang te hou of uit te brei, kan dit jou bron van inkomste tot niet laat gaan.
‘n Besigheid sal beslis baie stadiger groei as jy minimum skuld aangaan, maar daar is ‘n baie groter kans dat jou kinders en kleinkinders ook nog eendag die voordeel van jou besigheid sal kan geniet. ‘n Besigheid wat vinnig groei, verdwyn dikwels ook weer net so vinnig.
David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwerp op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.
(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)