Ekonomiese tekens van die tye

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 28 Februarie 2014

Ek ry vanoggend van die Paarl af Wellington toe en sien verskeie plekke waar druiwe van pars- waens afgeval het.  Dit veroorsaak gladde, nat kolle op die pad en ek besef dit is een van die tekens dat dit parstyd is in die Boland, soos Sias Reynecke in sy liedjie gesing het.

En dadelik dink ek daaraan dat ons as entrepreneurs ook insig nodig het om die tekens in die ekonomie raak te sien en te verstaan.  Daar is altyd sekere tekens of aanduiders wat vir ons wys wat ons te wagte kan wees in maande wat kom.

In 1 Kron. 12:32 word daar geskryf van die Issaskar stam, “… die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan.”  Almal van ons het nie altyd daardie insig en kennis van die ekonomie om te weet wat om te verwag nie.  Daarom glo ek is dit belangrik dat enige sakepersoon hom- of haarself op die hoogte moet hou van wat in die ekonomie aangaan deur gereeld in die koerante se finansiële blaaie en ander finansiële publikasies te lees wat kenners skryf oor die jongste verwikkelinge.

Hierdie week was dit weer die jaarlikse begrotingsrede wat deur die Minister van Finansies aan die Parlement voorgelê is.  Dit is ‘n belangrike ekonomiese aanduider of “teken” van faktore wat ons besighede in die komende jaar gaan beînvloed.  Maak dus seker dat jy ten minste lees wat  kenners voorspel hoe die staat se die begroting jou en jou onderneming gaan raak.

Daar is egter ook ander faktore wat beslis hierdie jaar ‘n invloed op ons besighede gaan hê.  Daar kom ‘n Aprilmaand met baie vakansiedae, soveel so dat die skole glad ‘n ekstra week gesluit gaan wees aan die einde van April.  Dit gaan verseker ‘n invloed hê op wat jou onderneming daardie maand kan produseer.

Daar is ook ‘n verkiesing op hande en ons gaan hoor van beleide en die baie beloftes waarmee elke politieke party ons gaan probeer oortuig dat sy beleid die beste is.

Wees daarom wakker, in Engels “alert”, sodat 2014 steeds ‘n goeie jaar kan wees.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaande van 19:00 tot 20:00 oor Entrepreneurskap op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *