Goed, Beter, Beste?

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 28 Maart 2014

In sy boek Good to Great skryf Jim Collins “Good is the enemy of great.”  Met die eerste oogopslag klink dit na ‘n aartsvreemde stelling.  Maar as ons sy gedagtegang verstaan, maak dit baie sin.

Daar is baie besighede wat redelik suksesvol is en vir die eienaars ‘n bestendige inkomste verseker.  So ‘n besigheid val in die kategorie van “good.”  Maar die besigheid het dalk die potensiaal om nog baie te verbeter en te groei.  Omdat die eienaars egter tevrede is met die gemaksone wat die besigheid hulle bied, verbeur hulle die moontlikhede wat eintlik opgesluit lê in die besigheid.  Dus “good is the enemy of great.”

In verlede week se artikel het ons gekyk na die belangrikheid daarvan om reg te dink oor ons besighede.  Bogenoemde denkwyse is nie die beste vir jou besigheid se toekoms nie.  Die eienaars was dalk baie vernuwend in hul denke toe hulle die besigheid begin het, maar noudat die besigheid redelik gegroei het, is die enigste doel om dit wat hulle het, in stand te hou.

Hoekom nie ‘n goeie besigheid verder uitbou nie?  Die rede hoekom die meeste besigheids-eienaars dit nie doen nie, is omdat dit harde werk vereis en baie aandag aan detail nodig is om by “great” uit te kom.  Dit is soos ‘n leerder wat op skool 70% gemiddeld kry en besluit hy of sy wil werk vir 80%.  Daardie ekstra 10% gaan waarskynlik net soveel werk verg as om die eerste 70% te kry, met baie meer aandag aan detail.

En dit is waarskynlik die rede hoekom baie besighede nooit verder as die “good” gedeelte vorder nie.  Daardie ekstra inspanning om bo jou mededingers uit te styg, is vir die meeste besigheids- eienaars net te veel moeite.

Indien jy wel besluit dat jy daardie ekstra myl in jou besigheid wil loop, is dit baie belangrik om te weet waarheen jy mik en hoe jy jou besigheid wil laat uitblink bo jou mededingers.  Daardie stap van “good” na “great” gebeur nie sommer net nie, maar vir die wat bereid is om daardie ekstra in te sit, wag daar gewoonlik ‘n goeie beloning.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaande van 19:00 tot 20:00 oor Entrepreneurskap op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *