Is beter tegnologie die antwoord?

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 7 Junie 2013

Ons word deesdae so oorval met nuwe tegnologiese aanbiedinge, dat dit moeilik raak om by te bly met nuwe ontwikkelinge.  Mense reageer gewoonlik hierop deur te probeer bybly of hulle stel net nie belang om dit te leer gebruik nie.

Om in jou besigheid weerstand te bied teen nuwe tegnologie veroorsaak dat jy jouself later al hoe meer uit die mark uitsluit.  Verbeterde tegnologie kan besighede help om beter gehalte produkte of dienste in ‘n korter tydperk te lewer.  Aangesien kliënte die beter gehalte produkte en dienste verkies, is dit nodig om saam met tegnologiese ontwikkeling te beweeg sodat jou besigheid mededingend kan bly.

Aan die ander kant is daar weer diegene wat ly aan FOMO – “Fear of missing out”.  D.w.s. as daar iets nuuts op die mark is, kan jy nie rus voor jy dit nie ook het nie.  Dit is ‘n baie duur opsie, want dit is onmoontlik om by te bly met al die nuwe tegnologie.

Ons moet onthou tegnologie is slegs deel van die gereedskap wat ons gebruik. Voor die industriële revolusie het mense handgereedskap gebruik om produkte mee te vervaardig; daarna grotendeels masjiengereedskap.  Vandag word baie masjiene se werking beheer deur vooraf geprogrammeerde rekenaars.

Dit bly egter nog steeds net gereedskap en al is goeie gereedskap belangrik, is dit nie die tegnologie in die eerste plek wat die sukses van ‘n besigheid bepaal nie.  Ons sien gereeld advertensies in koerante van veilings wat gehou word waar van die beste masjinerie en toerusting verkoop word.

Goeie leierskap en bestuur is steeds die belangrikste aspek wat die sukses van ‘n onderneming bepaal.  Tegnologie is ‘n hulpmiddel wat sukses kan aanhelp, of ‘n gebrek daaraan kan sake bemoeilik, maar dit is nie dié bepalende faktor vir sukses nie.  ‘n Gebalanseerde benadering t.o.v. tegnologie is dus baie belangrik.

‘n Ander realiteit van die vooruitgang in tegnologie is dat sekere poste of tipes werk uitgefaseer kan word en aanleiding gee tot werksverliese.  Dit is een van die redes hoekom ons mense aanmoedig om entrepreneurskap as loopbaanopsie te oorweeg.  Die beste manier om te verseker dat jy werk het, is om vir jouself werk te skep.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur verder oor hierdie onderwerp.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262) 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *