Jou besigheid se beeld na buite

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 19 Julie 2013

Om ‘n goeie besigheid te bou, is dit nodig dat ‘n besigheid ‘n eerlike en positiewe beeld na die gemeenskap waarin dit sake doen, sal reflekteer.  D.w.s. die openbare mening kan ‘n groot invloed op die sukses van jou besigheid hê.

Die openbare mening word o.a. bepaal deur die wyse waarop ‘n onderneming sy werknemers benut en vergoed, die onderneming se verantwoordelike benutting van hulpbronne en die bewaring en vervanging daarvan, asook die kwaliteit en prys van die produk of diens wat die onderneming lewer, ens.  Dit alles het ‘n invloed op die gesindheid, houding en mening van buitestaanders t.o.v. die onderneming.

Hierdie doelbewuste pogings om die openbare mening te beïnvloed, staan bekend as eksterne betrekkinge.  Dit is nie iets wat toevallig gebeur nie.  Dit is ‘n weldeurdagte poging om die invloedsfeer van die onderneming so uit te brei dat daar begrip vir die onderneming se werksaamhede en optrede bestaan.

‘n Mens moet nie eksterne betrekkinge verwar met propaganda nie.  Propaganda is gewoonlik manipulerend en belangrike feite word meestal verbloem of verswyg om mense te manipuleer.  Eksterne betrekkinge het ‘n etiese grondslag van eerlikheid en berus op die kuns om mense te oorreed met die verstrekking van feite en nie deur die verswyging daarvan nie.

Dit verskil ook van bemarking wat daarop gemik is om die onderneming se produkte of dienste aan kliënte te verkoop, terwyl eksterne betrekkinge gemik is op die bemarking van die hele onderneming aan die breë gemeenskap.

Soms kan iets soos ‘n ongeluk by ‘n besigheid, ‘n baie negatiewe persepsie t.o.v. byvoorbeeld die besigheid se veiligheidstandaarde skep.  In so ‘n geval is die regte optrede van die uiterste belang om die onderneming se reputasie te herstel.

Daar is baie maniere waarop ‘n onderneming te werk kan gaan om ‘n positiewe boodskap aan die gemeenskap te kommunikeer.  Skep ‘n Facebook blad waar daar geskryf kan word oor wat in die onderneming gebeur, borg ‘n skole sportspan, plaas ‘n promosie artikel oor die besigheid in ‘n koerant en vele meer.

Onthou altyd dat ‘n besigheid se goeie naam oor tyd, met harde werk en goeie beplanning gebou word.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwep op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262) 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *