Deur David Malherbe – Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 5 Julie 2013
Pres. Harry Truman, president van die VSA van 1945 tot 1953, het ‘n bordjie op sy lessenaar gehad waarop daar gestaan het: “The buck stops here.” Dit het aangedui dat hy persoonlik verantwoordelikheid aanvaar vir die manier waarop die land regeer word.
Vir ‘n entrepreneur / besigheidseienaar geld presies dieselfde. Een van die grootste euwels is om ander mense verantwoordelik te hou vir die toestand waarin my besigheid is of waarin ek myself bevind. Dit is nodig dat ons verantwoordelikheid neem vir wat ons sê en doen. Herman Mashaba, stigter van Black Like Me reken jy moet persoonlik verantwoordelikheid vir jou eie toekoms aanvaar. Ina Paarman sê “Dit is elkeen se plig om sy of haar eie geluk te skep.”
‘n Gesonde lewensuitkyk is uiters belangrik vir entrepreneurs. Dit is belangrik om te weet dat niemand die welsyn van jou onderneming op die hart dra soos jy, die eienaar, nie. Daarom is die beste helpende hand meestal die een aan die einde van jou eie arm.
Sorg dat jy weet waarheen jy op pad is met jou besigheid en jou lewe. Daarsonder is ‘n mens doelloos. Salomo noem dit ‘n gejaag na wind.
Benader probleme op ‘n positiewe wyse. As jy jou blind staar teen probleme gaan dit jou onderkry. Hou altyd jou doel voor oë, dan sal jy makliker die probleme oorkom.
Oppas vir kortpaaie. Ons is geneig om te dink daar is kortpaaie na sukses, maar daar is nie. Ons leef in ‘n wêreld waar almal kitsoplossings soek, maar as die kortpad die beste roete was, sou die hoofpad daarlangs geloop het. Malcolm Gladwell glo dat dit ten minste 10 000 uur se harde werk kos om werklik uitnemend te raak in dit wat jy doen.
Wees altyd eerlik. Iemand het gesê dat Suid-Afrika te klein is om skelm te wees in besigheid. D.w.s. Drakenstein is hopeloos te klein daarvoor.
Moet ook nie vashaak by prestasies van die verlede nie. Dit gaan niks aan jou toekoms verander nie. Paulus sê in Fil 3:14 “… ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Onthou, dit is ‘n toekomsvisie wat ‘n besigheid bou.
David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwep op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.
(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262)