Deur David Malherbe – Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 24 Mei 2013
‘n Entrepreneur word gewoonlik as suksesvol gesien as hy geld maak. Daarom kyk ons vandag na drie belangrike geld aspekte in ‘n besigheid.
Eerstens moet die besigheid se laste (skuld) nie meer wees as die bates (besittings) nie. Met meer bates as laste sê ons die besigheid is solvent.
In die tweede plek moet ‘n onderneming se inkomste groter wees as die uitgawes want dan maak dit ‘n wins. ‘n Werker se salaris of loon is sy vergoeding vir die werk wat hy of sy doen en wins is die besigheid eienaar se vergoeding vir die werk wat hy of sy doen en vir die risiko wat hulle loop. Die belangrike vraag is dus of die besigheid ook winsgewend is?
Maar ‘n besigheid kan solvent en winsgewend wees en nogsteeds in die moeilikheid beland. Die rede is dat produkte of dienste wat op krediet verkoop word, ook gereken word as inkomste wat reeds verdien is, al het die besigheid nog nie die geld vir die transaksie ontvang nie.
Dit bring ons dan by die derde baie belangrike geld aspek van besighede naamlik kontantvloei of likiditeit. Dit is juis hier waar baie besighede se grootste kopsere elke maand lê. Aan die einde van die maand moet besigheidsuitgawes soos huur, lone en salarisse, telefoon en vele ander betaal word. Nou het jy kontant nodig.
Miskien was daar nie genoeg verkope gedurende die maand nie of te veel is op skuld (krediet) verkoop en jy sukkel om jou geld van die debiteure af in te kry. Indien jy nou boonop die nuus moet kry dat die persoon wat vir jou die meeste skuld, bankrot is, kan dit jou ook sink. (‘n Storie wat ek al dikwels gehoor het)
Om dus ‘n gesonde besigheid te hê moet dit nie net solvent en winsgewend wees nie, maar is ‘n goeie kontantvloei uiters noodsaaklik. Wees dus versigtig met beide die aangaan en die toestaan van krediet, want kontantvloei probleme kan beide winsgewendheid en solvensie tot niet maak en jou besigheid sluit.
David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 op Radio KC 107.7 FM in die program “Jy die Entrepreneur” verder oor hierdie onderwerp.
(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262)