Moeilike tye benodig kreatiewe planne

Deur David Malherbe – Gepubliseer in Boland Gazette – Dinsdag 5 April 2016

Daar is tekens dat ons ekonomie tans ‘n moeilike fase beleef. ‘n Berig die afgelope week op Netwerk 24 se webblad noem dat franchise-ondernemings in die kitskos bedryf al meer sukkel om stygende insetkoste aan platsak verbruikers deur te gee.

Dit beteken dat die invloed van die droogte en ander ekonomiese probleme waaroor ek vroeër gewaarsku het, nou besig is om ‘n realiteit te word. Die droogte bring mee dat minder landbou produkte geproduseer word en dit veroorsaak dat vraag die aanbod oorskry en pryse aansienlik styg.

Een van die nadele van franchise ondernemings is dat individuele eienaars pryse slegs kan verhoog wanneer die konsessiegewer pryse vir al die besighede in die groep verhoog. Stygende voedselpryse beteken hoër insetkoste vir kitskos ondernemings en as jy nie verkooppryse ook kan verhoog nie, raak dit ‘n probleem om winsgewend te bly.

Verder word gepraat van platsak verbruikers wat beteken dat kliënte nie maklik hoër pryse vir die gerief van kitskos kan betaal nie. Stram ekonomiese tye raak egter alle besighede en nie net die kitskos bedryf nie. So wat staan besighede te doen in tye soos dié?

Eerstens is kreatiewe denke nodig omtrent hoe om kostes te verlaag en inkomste te verhoog. In sulke tye is dit seker die moeilikste om inkomste te verhoog en dit sal besonder kreatiewe denke verg.

Party besighede kan dalk produkte of dienste bemark in areas waar hulle nog nie voorheen betrokke was nie of kan ekstra produkte of dienste tot die bestaande reeks byvoeg om ‘n groter deel van die mark te kan bedien.

Hoe onbelangrik dit dalk mag klink, maar besonder goeie diens deur vriendelike en hulpvaardige personeel is ook absoluut noodsaaklik om te verseker dat jou besigheid kliënte se verskaffer van eerste keuse sal wees. Elke kliënt moet telkens weer terugkom vir herhalende aankope.

Partykeer kan ‘n verkoping teen afslagpryse vir ‘n beperkte tyd help om ekstra kontantvloei te genereer. Wees egter versigtig met die berekening van hoeveel afslag, om te verseker dat verkope steeds winsgewend sal wees.

Indien inkomste nie verhoog kan word nie, sal kostebesnoeiings waarskynlik selfs pynlike besluite soos die aflegging van personeel moet insluit.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer en woon in Wellington. Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *