‘n Hoër Mikpunt

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 18 Oktober 2013

Ek lees verlede week in ‘n tydskrif, Jake White, voormalige Springbok Rugby afrigter, sê “Ek wil weer internasionale rugby afrig en nog ‘n Wêreldbeker wen.”  Nou gaan hy egter eers die Sharks afrig.

Maar waarheen mik hy?  Die meeste Super Rugby afrigters mik na die wen van die Super Rugby trofee.  Jake White verseker ook, maar sy eintlike mikpunt is om nog ‘n Wêreldbeker te wen. Hy was al daar en hy is bekend met die groter druk van toets rugby.  Daarom reken ek dat sy beplanning en afrigting dalk ‘n bietjie anders kan wees.

In dieselfde artikel word van White gesê:  “Jake is ‘n langtermyn denker wat ver vooruit beplan.  Dit is hoekom hy ‘n Wêreldbeker gewen het.”

Nou is my vraag: “Hoe benader jy jou besigheid?”  Is jou mikpunt om regtig uitstaande te wees, of om maar net te oorleef, net nog ‘n “me-too” besigheid te wees?

Om regtig uitstaande te kan wees, is dit baie belangrik om langtermyn te dink.  Korttermyn denke gaan net oor hoeveel geld ek vandag uit die kliënt wat nou voor my staan, kan maak.  Langtermyn denke oorweeg wat gaan ek doen om te verseker dat hierdie kliënt in die toekoms weer met my sal sake doen.

Dit is waar goeie leierskap benodig word.  Vir ‘n goeie besigheidsleier is die hoër mikpunt van ‘n uitstaande besigheid oor die langtermyn, baie belangriker as om vinnig te probeer ryk word uit twyfelagtige transaksies wat die besigheid se naam skade berokken.

Sulke tipe leierskap staan in die besigheidswêreld bekend as “level five leadership”.  Dit beteken die leier plaas die besigheid se vooruitgang, die kliënte en personeel se belange voorop.  Op die korttermyn gaan mense dikwels sê jy weet niks van besigheid af nie of jy is te konserwatief.  Maar op die langtermyn staan jy ‘n baie beter kans dat hulle jou gaan bewonder omdat jou besigheid al so lank bestaan en suksesvol is.

Sorg dus dat jy ‘n goeie langtermyn plan en strategie vir jou besigheid in plek kry, sodat jy kan weet waarheen jy mik.  “If you fail to plan, you plan to fail.”

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwerp op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *