‘n Nuwe Seisoen

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 19 Julie 2013

Die wisseling van seisoene bring sekere vrugte na die mark volgens die seisoen waarin ons ons bevind.  Elke vrug het sy seisoen waarin dit ryp word en wanneer dit die optimale tyd daarvoor is.  Ons vind dieselfde t.o.v. tipes besighede.

Daar was ‘n tyd in die geskiedenis voor die industriële revolusie wat die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking in die landbou sektor werksaam was.  D.w.s. die meeste werksgeleenthede was in die landbou en die meeste besighede was landbouverwant.  Onthou, ‘n boerdery is ook ‘n besigheid.  Dit moet wins maak om te kan bly voortbestaan.

Na die industriële revolusie het ons onsself in die tydperk van industrialisasie bevind waar fabrieke en vervaardiging tesame met mynbou die groot rolspelers in die wêreld se ekonomieë geword het.  D.w.s. die landbousektor het gemeganiseerd geraak en al hoe minder mense het in die landbousektor bly werk, terwyl die meerderheid werk- en besigheidsgeleenthede na die industriële sektor verskuif het.

Die landbousektor was steeds noodsaaklik, maar die rol van landbou in die totale ekonomie het baie kleiner geword, en dié van vervaardiging al hoe groter.  Maar die wêreldekonomie is weer besig om so te verander.  Die sogenaamde “industrial age” is besig om verby te gaan terwyl die “information age” tans die groeipunt in die wêreldekonomie is.

Ons sal nog steeds landbou en nywerhede nodig hê, maar die groei lê in inligting, rekenaars, tegnologie.  D.w.s. in die wêreldgeskiedenis is ons sover dit besigheid aangaan, in die seisoen van die kennis en dienste sektor.  Die huidige seisoen in die geskiedenis word treffend opgesom deur die Engelse spreuk wat sê: “There is a move from hard to soft.”  Dus was die klem in die ekonomie voorheen op vervaardiging van produkte en mynbou, maar nou verskuif die klem na dienste en die sagteware wat rekenaars gebruik.

Wil jy ‘n besigheid begin, maar weet nie watter soort besigheid nie?  Onthou, die groei lê in die kennis ekonomie van sagteware, inligting en dienste.  Daar is niks verkeerd met landbou en vervaardiging nie, ons almal het kos en produkte nodig, maar onthou tans is die groei in die dienste sektor.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwep op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262) 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *