Om wins te maak

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 21 Junie 2013

Mense het dikwels die persepsie dat ‘n entrepreneur iemand is wat wat baie geld maak.  Maar entrepreneurs is in die eerste plek mense wat die durf het om vir hulleself werk te skep eerder as om na ‘n werk te gaan soek.  Party verdien goeie geld, party oorleef net, maar ongelukkig is daar ook die wat nie die mas opkom nie.

Soos met elke ander werk is kennis en vaardigheid van dit wat jy doen belangrik.  Wanneer jy ‘n entrepreneur is, is tegniese kennis alleen nie goed genoeg nie.  Kennis en vaardighede tov die bedryf van ‘n besigheid is net so van kardinale belang.  Dit is hoekom ons graag die wat die durf het om ‘n eie werk te skep, wil bemoedig en raad gee vir ‘n beter kans op sukses.

Ons hoor gereeld van iemand wat ‘n werk verloor het en dan wonder mense waar hulle nou weer ‘n werk gaan kry.  Maar enkeles dink anders en sê “Wat kan ek nou vir myself doen?”  Baie besighede is al so gebore en later sê die eienaar dat om sy/haar werk te verloor, die beste ding was wat kon gebeur het.

Die dag wanneer jy jou werk verloor, stort jou hele wêreld in duie.  Dit veroorsaak gewoonlik ‘n “tipping point” in jou lewe wat jou anders as ooit vantevore na die lewe laat kyk.  As jy reg dink en doen, kan daar egter vir jou ‘n blink toekoms wag.  Moet beslis nie negatiewe uitsprake maak soos Job in Job 7:7 nie.  Hy het gesê “… ek sal nooit weer voorspoed beleef nie” en ons weet hy was aan die einde van sy lewe twee keer so ryk as voorheen.

“Anders dink,” gaan egter oor meer as net “Wat kan ek vir myself doen?”  Wanneer ‘n mens ‘n eie besigheid het, raak jou siening van werk en geld anders as wanneer jy ‘n salaris verdien. ‘n Vakansiedag is nou ‘n dag minder in die maand om geld te verdien terwyl salarisse aan die einde van die maand betaal moet word.  Maar om ‘n wins te maak bied ‘n motivering wat net die wat dit ken, kan waardeer.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 op Radio KC 107.7FM tydens die program Jy die Entrepreneur verder oor hierdie onderwerp.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262) 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *