Produksie

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 13 September 2013

Elke besigheid produseer iets – ‘n produk of ‘n diens.  Maar wat van ‘n winkel wat net produkte aankoop om weer te verkoop?  Hulle lewer ‘n diens deur ‘n groot verskeidenheid produkte van verskeie fabrikante onder een dak bymekaar te kry sodat die verbruiker dit alles op een plek kan koop.

Wat ‘n onderneming egter ook al produseer, dit bly belangrik dat die produksieproses so goed en effektief as moontlik bestuur sal word.  Met goeie bestuur word produktiwiteit verhoog, d.w.s. die uitset word vergroot terwyl die insette dieselfde bly of minder word.  Beter bestuur van die produksieproses help ook om kliënte se behoeftes “beter” te bevredig en dit is weer goed vir die onderneming se reputasie of beeld in die gemeenskap waar dit sake doen.

Belangrike aspekte wat nodig is om die bogenoemde positiewe situasie te laat realiseer, is:

–       Doen dinge die eerste keer reg.  Om werk oor te doen beteken dubbel soveel werk.

–       Doen werk vinnig, want dan kry kliënte vinniger hulle bestelling.

–       Werk kostedoeltreffend, want hoër koste beteken minder wins.

Om enige produk of diens te kan produseer benodig besighede sekere insette en hulpmiddels.

Eerstens benodig die onderneming finansies / finansiering om aan die gang te kom en aan die gang te bly.  Dan is dit nodig dat daar iemand sal wees wat die saak sal bestuur en sorg dat hulpbronne ten beste aangewend word.  Ook het die eienaar mense (werknemers) nodig om te help dat al die werk gedoen kan word.

Enige besigheid het gewoonlik ook masjienerie nodig om beter produkte of dienste te kan lewer.  Soms is dit net ‘n voertuig, ander kere hand- of masjien gereedskap.  Verder is verbruiksgoedere soos skoonmaakmiddels, verpakkingsmateriaal, sjampoo (in die geval van ‘n haarsalon), ens. ook nodig om beter diens aan die kliënt te kan lewer.

En laastens kan geen onderneming bestaan sonder ‘n mark aan wie die produk of diens gelewer kan word nie.  Dit is dus baie belangrik om altyd te onthou elke produk of diens word geproduseer met ‘n spesifieke mark (persoon of persone) in gedagte.  En daardie mense se tevredenheid bepaal die toekoms van jou onderneming.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwerp op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *