Raad vir skuld!

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Vrydag 14 Februarie 2014

Nadat ek die vorige twee weke oor stygende rentekoerse en skuld geskryf het, het ek heelwat navrae van lesers ontvang wat raad soek oor hoe hulle hul skuldprobleme moet hanteer.  Daarom het ek besluit om hierdie week nog ‘n bietjie stil te staan by skuld en krediet.

In die eerste plek glo ek dit is baie belangrik om te onthou dat as jy enigiets op skuld koop, gaan jy heelwat meer daarvoor betaal as wanneer jy dit kontant sou koop.  So, as jy nie nou die geld het om dit kontant te koop nie, hoekom wil jy nog meer vir dieselfde item betaal?

Ek weet daar is groot aankope soos ‘n huis en voertuie wat die meeste van ons nooit sal kan koop as ons dit nie kan afbetaal nie.  Maar ek glo kleiner items soos kos, klere, ens. moet ons liewer kontant probeer koop.

Kredietkaarte is net so moeilik om af te betaal.  Jy hoef elke maand slegs tien persent terug te betaal, maar elke maand koop jy weer daardie tien persent vol en die skuld word nooit afbetaal nie.  Mense sê die beste raad om van kredietkaartskuld ontslae te raak, is plastiese chirurgie; sny die kredietkaart in klein stukkies op en gooi dit in die drom.  Betaal dan maandeliks die skuld daarop af en koop wat jy met die kaart sou gekoop het, kontant.  Die groot voordeel is dat jy binnekort nie meer elke maand nog ‘n klomp rente ook gaan betaal nie, en jy gaan die rentegeld ekstra hê om mee te koop.

Sou jy die maand nie genoeg geld hê om al jou uitstaande rekeninge te betaal nie of jy kry dalk aanmaningsbriewe van skuldeisers, moenie net stilbly en dink die probleem sal verdwyn nie.  Gaan liewer na die skuldeiser toe en verduidelik jou situasie aan hom / haar en beding ‘n ooreenkoms van hoe jy beplan om die skuld terug te betaal; en baie belangrik, hou by die reëling wat jy getref het.

Maak 2014 die jaar wat jy gaan probeer om uit skuld uit te kom, en hou dan aan om sover moontlik kontant en skuldvry te leef.

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaand van 19:00 tot 20:00 verder oor hierdie onderwerp op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *