Sukses op die veld

Deur David Malherbe   –   Gepubliseer in Drakenstein Gazette – Donderdag 17 April 2014

Oral waar rugby gepraat word, is getroue ondersteuners van die Stormers deesdae baie bekommerd oor die huidige toedrag van sake.  Sake lyk nie goed vir dié span nie.  Die grootste uitdaging hierdie seisoen kan dalk wees om nie heel onder aan die punteleer te eindig nie.  Van trofee wen, is daar wat my betref geen sprake nie.

Ongelukkig beteken dit dat toeskouergetalle ook taan.  Niemand van ons ondersteun graag ‘n verloorspan nie.  Dalende toeskouergetalle het ongelukkig ook ‘n baie negatiewe effek op die finansies van die rugby unie.  Ons moet onthou die rugby unie is ook ‘n besigheid wat ‘n wins moet maak om te kan voortbestaan en te kan uitbrei.

Ek lees in Die Burger dat Peter Kenyon, ‘n voormalige uitvoerende hoof van die sokkerreuse Manchester United en Chelsea, onlangs Suid-Afrika besoek het.  Hy sê die finansiële sukses van ‘n sport begin met sukses op die veld en dit moet jy dan so wyd moontlik uitbou.

Hy vertel dat Sir Alex Ferguson, voormalige afrigter van Manchester United, ‘n baie goeie begrip hiervan gehad het.  Ferguson het ook beklemtoon dat om suksesvol te wees die klub genoeg inkomste moet genereer.  Dit stel die klub in staat om die sterkste moontlike span te kry.  Verder verduidelik Kenyon dat Ferguson altyd baie nougeset in sy metodes was.

Die gevolg? Sy span het uitstekend presteer en die boeke het geklop.

Dit werk presies dieselfde vir ons besighede.  Sukses in ons besighede begin met ons kontak met kliënte; d.w.s. dit wat op die veld gebeur.  Ons wil almal graag hê dat mense ons sal ondersteun, maar wat bied ons vir ons kliënte?  Is die gehalte van ons produk of diens sodanig dat hulle weer sal terugkom, of sal hulle volgende keer liefs iewers anders wil aanklop?

Dit is baie duurder en baie harder werk om voortdurend nuwe kliënte te soek as om bestaande kliënte gelukkig te hou.  Enige besigheid wil veel eerder die beste te wees as om te moet keer om die wolf van die deur af weg te hou.

Trek jou besigheid tans swaar?  Vra jouself dan af:  “Is ek regtig nougeset in die lewering van die beste gehalte produkte en /of diens?”

David Malherbe en Dewald Scholtz gesels Maandagaande van 19:00 tot 20:00 oor Entrepreneurskap op Radio KC 107.7 FM tydens die program Jy die Entrepreneur.

(David Malherbe is ‘n besigheids- en loopbaan konsultant en woon in Wellington.  Hy kan gekontak word via sy webblad www.jedidiah.org.za of by T/F 021-873 0262 of op Facebook by “Jy die Entrepreneur.”)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *